Wanneer laas was jy op
Swellendam? Nee, nie verbygery nie, maar ingery, gestop, geëet, oorgeslaap?
Wanneer laas het jy die Breede sien verbyvloei op sy laaste skof na die see?
Wanneer laas die Langeberge in sy blouse blou gesien? Die bloeisels in die
lente, die sneeu op die pieke in die winter?
Wanneer laas was jy by die
Drostdy op Swellendam? Gaan kyk bietjie in daai agterkamer wat uit die kombuis
uit loop, regs in die hoek. Daar staan ‘n kontrepsie wat lyk soos ‘n
ploegskottel en dit het pootjies van yster. Dit het ‘n deksel met hoë rante,
sodat jy kole op die deksel kan
gooi sonder dat dit afval. Baie soos jou Bush Baby swartpot vandag, die rante
is net hoër.
Die enigste verskil, is dat
hierdie ploegskottel van koper gemaak is ongeveer 200 jaar gelede – vir die
uitsluitlike doel om melktert oor die kole te bak. Want hulle het nie
Defy-stowe gehad nie, verstaan. Jy sit die deeg met die melkpap daarin op die
koperbak en jy sit dit op die kole. Dan sit jy die deksel op en gooi kole
bo-op. Veertig minute en jy haal jou moesa groot melktert uit, perfek gebak.
En dan is daar niertjies
met ‘n suursousie in skaapvet gebraai. Die enigste spyt wat jy later het, is
dat jy jouself nie heeltemal onkapabel dik gevreet het nie. En dit op brood wat
in die buiteoond gebak is.
Ons bak ook viskoekies,
maar nie sommer so nie. Die vis word in wyn geposjeer en dis ‘n lieflike
affêre. Ons maak ook ‘n outydse ete: frikkadelletjies gekook in boontjiesop en
René maak telefoonpoeding – dis ‘n lekker resep van haar (wat sy by Mareta
gekry het).
Mareta. Mareta het
hoeveel van die ander mense in die program leer kook en bak. Sy deel graag haar
kennis en koester haar familie. Sy laat nie dat terugslae haar onderkry nie en
leef met drif en passie. En dan moet jy bietjie haar kluitjies proe wat sy op
‘n skenkelpot maak. Jy gaan trane in die oë kry van lekkerkry.
Dan is daar ook haar
skoonma se karringmelkpoeding...
Het ek nou van alles
geskryf? Nee. Hoe moet ek skryf van die mooite van die mense? Van die
hartlikheid, die styl?Hier is die resepte wat in die program was: Outydse karringmelkpoeding:
1½ E botter
¾ k suiker
3 eiers
3 E meel
1 t bakpoeier
knippie sout
1 k melk
2 k karringmelk
Mareta se outydse
karringmelkpoeding maak ‘n mens so:
Room die botter en suiker saam, voeg die eiers 1 vir 1 by
en klits goed. Sif die meel, bakpoeier en sout en voeg by. Maak aan met
melk en karringmelk. Gooi in gesmeerde bak.
Sit klontjies botter bo-op.
Bak 40 min tot mooi ligbruin bo-op. Bedien met
sitroen- of vye konfyt.
Wenk van Dine van Zyl: hierby kan ook 1 t vanieljegeursel
gevoeg word.
Skaapskenkelpot:
3 uie, in skywe
gesny
2 E kookolie
1,5 kg
skaapskenkels
4 E meelblom
2 t sout
¼ t swartpeper
¼ t koljander
2 rape, opgekap
4 kruinaeltjies
paar takkies
vars tiemie
2 k kookwater
2 geelwortels,
opgekap
4 aartappels,
geskil en in kwarte gesny
Braai die uie
in die kookolie tot dit glaserig is en skep uit.
Rol die vleis
in meel wat gegeur is met sout, swartpeper en koljander. Braai die vleis tot
dit geseël is van buite. Voeg die raap, kruinaeltjies, tiemie en kookwater
by, sit die deksel op en laat dit stowe.
Voeg die
geelwortels en aartappels by en stowe tot sag.
Maak nou die kluitjies.
KLUITJIES
2 k koekmeel
4 t bakpoeier
½ t sout
6 E botter
2 eiers
6 E melk
½ k fyngekapte
pietersielie
1 gerasperde ui
1 t vars tiemie
knippie
swartpeper
Sif die
koekmeel, bakpoeier en sout saam en vryf die botter daarin.
Klits die eiers
en melk en roer die pietersielie, ui, tiemie en sout by. Meng dit alles saam
tot ‘n taamlike stywe beslag.
Skep lepelsvol
kluitjies in die vloeistof op die vleis en groente. Stowe vir 20 minute sonder
om die deksel op te lig.
Bedien die
kluitjies saam met die vleis.
SITROENKONFYT
7 – 8 mooi
groot sitroene
2,5 kg suiker
15 k water
Rasper sitroen
liggies van buite dat hy soos skilpaddop lyk. Sny in kwarte en haal binneste
deel uit, gooi dit weg.
Plaas kwart
skywe in koue water in emalje- of plastiekemmer met bord bo-op om stukke onder
water te hou. Vars uit vir 3 dae maar vervang water elke dag met vars water.
Kook op derde
dag sag in skoon water tot vuurhoutjie se agterkant deur skil kan gaan.
Maak stroop van suiker en water en plaas saggekookte skille in stroop.
Kook vir 30 min en laat oornag in stroop lê.
Kook volgende
dag tot stroop dik en skywe glansend is. Bottel warm.
Melktert:
Melktertkors:
2 k koekmeel
1 E bakpoeier
½ k suiker
knippie sout
100 g botter
1 eier
100 ml melk
Hierdie resep is
genoeg vir twee melkterte.
Vir die kors meng
jy die meel, bakpoeier, suiker en sout en vryf die botter in.
Klits die eier en
melk en voeg by.
Werk alles liggies
deur met die vingers tot dit ‘n stywe deeg vorm.
Rol die deeg uit
en strooi meel daaroor.
Melkpap:
1½ k koekmeel
3 t mielieblom
1½ k suiker
8 eiergele
1 k melk
nog 4 k melk
3 t
vanieljegeursel
250 g botter
8 eierwitte
Nou vir die
melkpap.
Meng die meel, mielieblom,
suiker, eiergele en die koppie melk en sit dit eenkant.
Verhit nou die 4
koppies melk, vanieljegeursel en botter en roer die meelmengsel daarby.
Verwyder van hitte.
Klits die eierwit
styf en vou dit versigtig in die mengsel.
Giet dit op die
deeg.
As jy dit in die
oond bak, doen dit teen 180º C vir 40 minute.
Strooi kaneel oor
voor bediening.
Niertjies met ‘n suursousie:
1
fyngekapte ui
2
E skaapvet
8
skaapniertjies, skoongemaak
¼
k meel
sout
en peper
30
ml (2 E) asyn
15
ml (1 E) suiker
paar
takkies pietersielie, baie fyn gekap
Braai
die ui in die skaapvet.
Sny
die niertjies op, strooi meel oor en geur met sout en peper.
Braai
dit saam met die uie.
Voeg
die asyn en suiker by, roer deur en strooi die pietersielie oor.
Viskoekies:
rou geelstert
2 lourierblare
skil van 1
suurlemoen
sout en peper
Om die viskoekies
maak, kook eers die geelstert sag in witwyn waarby lourierblare, suurlemoenskil,
sout en peper gevoeg is.
500 g gevlokte
ferm vis
2 k fyn aartappel
1 k bruismeel
1 ui gerasper
3 eiers
⅓ k pietersielie
sout & peper
2 E suurlemoensap
varsgerasperde
neutmuskaat
Maak nou die
viskoekies deur die gevlokte geelstert te meng met fyn aartappel, bruismeel,
gerasperde ui en 3 geklitste eiers. Roer hierby fyngekapte pietersielie, sout
en peper en ‘n bietjie suurlemoensap en varsgerasperde neutmuskaat.
Vorm viskoekies,
rol dit in meel en bak in vlak olie tot goudbruin.
Frikkadelletjies in boontjiesop
Hierdie
frikkadelletjies word in die boontjiesop gaargemaak.
200 g
beesmaalvleis
200 g varkmaalvleis
⅓ k gerasperde ui
2 snye brood,
korsies af
¼ t fyn koljander
¼ t droë tiemie
sout en peper
Meng die bees- en
varkmaalvleis en gooi die gerasperde ui by.
Verkrummel die
brood en gooi dit by die vleis saam met koljander, tiemie, sout en peper. Meng
liggies en rol dit in frikkadelletjies.
Kook vir agt
minute in voorafbereide boontjiesop.
Telefoonpoeding:
1 k suiker
½ k botter
1 eier
3 E
appelkooskonfyt
1½ k koekmeel
1 t koeksoda
1 t fyn gemmer
½ t sout
1 k melk
Room die suiker,
botter en eier saam en roer die appelkooskonfyt by.
Meng die koekmeel,
koeksoda, fyn gemmer en sout en roer dit by die bottermengsel. Voeg die melk by
en meng.
Stroop:
3 k kookwater
1 k suiker
gerasperde skil
van 1 suurlemoen
Maak die stroop
deur die kookwater, suiker en suurlemoenskil saam te kook.
Gooi die stroop in
‘n oondskottel en skep die deegmengsel in die stroop.
Bak teen 180ºC vir
30 tot 40 minute. |